Ons begin deur elkeen te erken wat ons het en dit in konteks te plaas van die volgende stelling:
“Being always precedes doing”
Wie jy is bepaal hoe en wat jy doen
Wanneer my identiteit in Christus gevestig is, verander dit fundamenteel my tydelike en ewige bestaan. As ek moet erken wat ek het, begin dit altyd met diep dankbaarheid dat ek uit genade Christus se verlossing ontvang het en dat die Heilige Gees nou in my woon. Nou lewe ek dankbaar uit die Goddelike natuur, totaal verander en denke vernuwe. Die ewige lewe saam met God het begin.
Die tweede gedagte rondom erken wat ek het, gaan oor die besef dat ek deel aan ’n ontdekkingsreis. Ek leer elke dag meer van Christus. Ek leer om met swaarkry en vervolging volhardend te lewe. Ek ontdek die gawes wat ek van God ontvang het en hoe dit komplimentêr werk. Ek ontdek my unieke plek en taak om te dien en te bou in die liggaam van Christus.
Met die gesprek wil ek drie aspekte dek wat my perspektief op die struktuur van die ontdekking van die gawes deel:
- God se “aksie-gawes” wat alle gelowiges deel.
- God se verskeidenheid van geestelike gawes (geskenke).
- Ontdekking en gebruik van die gawes.
Eerstens dan wat ek noem God se aksie gawes. 1 Kor 12 gee meer agtergond en 1 Kor 13 vat die wese van drie aktiewe gawes wat God aan alle gelowiges skenk saam. Dit is:
- Geloof – wat ons deur Christus aan God verbind en geanker hou.
- Hoop – wat ons motiveer om te volhard in geloof en laat uitsien na die wederkoms en ewige volmaakte werklikheid.
- Liefde (agapé) – wat die onuitputlike dryf is vir die toepassing van alle gawes.
Ons kan dit eenvoudig beskryf as God se “vliegwiel” wat die draaimoment verskaf aan al ons lewensaktiwiteite. Alle gelowiges deel so in God se krag.
Tweedens kyk ons na die verskeidenheid van unieke geestelike gawes wat gelowiges ontvang het. Alhoewel die Bybel van tussen 18 en 22 gawes praat, gee Ef 4 konteks aan 5 spesifieke gawes wat saam werk om die liggaam van Christus op te bou. Elke gelowige het een of meer van die bou gawes of geskenke wat meer dominant funksioneer. Die vraag is ken jy jou dominante gawes en hoe is dit belyn met jou aktiwiteite?
Die 5 bou gawes wat in Ef 4 gelys word is gefokus om gelowiges toe te rus vir hul dienswerk om die liggaam van Christus op te bou. Die 5 gawes is presies belyn met die bou van vertrouensverhoudings.
- Apostels – wat die waarheid verteenwoordig en vestig.
- Profete – wat geregtigheid en regverdigheid verseker.
- Evangeliste – wat mense laat deel aan die gemeenskap van gelowiges deur die evangelie te vertel.
- Herders – wat mense versorg en sekuriteit verseker.
- Leraars– wat die kennis van die woord met mense deel.
Ons kan dit beskryf as dat die liggaam van Christus (gemeenskap van gelowiges) by uitstek toerus is met ’n fondasie wat gesonde vertrouensverhoudings se funksionering ondersteun. Dit is ook baie besonders dat die gawes (geskenke) uitgedeel word in die triomftog van Christus.
Laastens kyk ons na hoe jy jou geestelike gawes kan ontdek en aanwend.
Die Rock gemeente in San Diego in die VSA het ’n gratis toets ontwikkel wat alle gelowiges wȇreldwyd kan gebruik om binne 5 minute die top 5 van 22 gawes te ontdek.
Skakel:https://giftstest.com/
Ontdek jou unieke gawes en onderskei watter bou op na binne en watter bou uit na buite. Laat almal om jou dit ook voltooi en saam ontdek julle hoe en waar julle aanvullend saam kan werk. In die proses ontdek julle ook die gapings wat iemand anders nog moet kom vul.
Ons is geskep om as gemeenskap in eenheid saam te werk. God se krag skep die momentum, die gemeenskapsbou gawes skep die fondasie vir vertrouensverhoudings en al die ander gawes funksioneer in konteks van dit. Ontdek jou gawes en maak seker dat dit komplimenterend saam werk met die mense om jou.
In Christus leef jy jou passie en doel.
Nota: Ek het hierdie gesprek ook gedeel met MAP4LIFE as GEM2342
