Goeie nuus
Die mees wesentlike gebeurtenis in enige mens se bestaan is die verlossing van die sondige natuur wat verhoed dat mens in ‘n persoonlike verhouding met die enigste lewende God kan lewe. Die Drie-enige God het ‘n plan gemaak om die persoonlike skeppingsverhouding met die mens te herstel. Dit het die grootste gebeurtenis met die mees wesentlike impak in die geskiedenis van die mensdom na die sondeval behels. Christus het mens geword. Christus is gekruisig. Hy het die finale offer vir al die sonde gebring. Hy het die dood oorwin, opgestaan en lewe. Hy het die Heilige Gees gestuur om by ons te wees terwyl ons wag vir Jesus Christus se wederkoms wanneer die volmaakte werklikheid in heerlikheid aanbreek.
Joh. 3:16 (Hoekom?) “God het die wêreld so lief gehad (Hoe? )dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, (Wat?)nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.
Deur verstommende genade alleen het ek Jesus Christus as persoonlike verlosser, Koning en Heer leer ken. Na meer as 40 jaar se saam stap in geloof leer ek nog daagliks nuwe fasette ken van die opgestane lewende Christus. Nooit ou nuus nie. My gebed en diepste hartswens is dat meer mense Jesus Christus kan leer ken en ook die vryheid van verlossing en die dryfkrag van onvoorwaardelike liefde vir alle mense kan deel. Hieroor kan mens nie stilbly nie.
Indien jy nie vir Jesus Christus as persoonlike Verlosser ken nie, word jy nader geroep en duidelik uitgenooi na die geleenthede op hierdie portaal.
Lees Rom 10:8b-15
En hierdie woord is die boodskap van die geloof, en dit is wat ons verkondig: 9As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. 10Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. 11Die Skrif sê tog: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” 12“Niemand nie!” Dit maak dus geen verskil of ’n mens ’n Jood of ’n Griek is nie, want dieselfde Here is Here van almal, en Hy seën almal wat Hom aanroep, ryklik, 13want elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word. 14Maar hoe kan ’n mens Hom aanroep as jy nie in Hom glo nie? En hoe kan jy in Hom glo as jy nie van Hom gehoor het nie? En hoe kan jy van Hom hoor sonder iemand wat preek? 15En hoe kan iemand preek as hy nie gestuur is nie? Daar staan ook geskrywe: “Hoe wonderlik klink die voetstappe van dié wat die goeie boodskap bring.”
Lees die Eerste Brief van Johannes. Luister na die inspraak van die Heilige Gees in jou gedagtes.
Kom nader. Kom in. Kom stap saam.
Die uitnodiging om saam te reis deur die op en af van die lewe kom uit 2Kor 1. Dit is geskryf in die vorm van ‘n sonnet om die hart en passie van die “nader roep” te deel.

