Konteks:
Baie mense in die samelewing funksioneer buite die ervaring van egte en geloofwaardige gemeenskap. Daar is beperkte of geen grondslag vir die ontwikkeling van samewerkende vertrouensverhoudings nie. Die realiteit is dat ’n veroordelende samelewing mense dikwels verder isoleer wanneer die stryd om oorlewing meer belangrik word.
Christene is juis toegerus vir diens om die liggaam van Christus op te bou. (Ef. 4:11-13). Christene het die woord as riglyn vir die lewe in Christus (Ef 4:25 tot 5:20). Christene het die volle wapenrusting van God om weerstand te kan bied in die stryd om op hul pos te kan bly staan. (Ef 6:10-20). Dit is waar vir alle Christene waar hulle ook al op aarde mag wees.
Baie ervare gelowiges is soos Paulus deur God bemoedig op hul lewensreis sodat hulle weer ander kan bemoedig. (2 Kor 1:3-4). Vir baie gewone Christen gelowiges is dit nie prakties moontlik om fisies deel te neem aan ’n selgroep of kleingroep bespreking nie. Hierdie inisiatief bied ’n aanvullende virtuele geleentheid om jou genadegawes interaktief uit te leef. Mense wat op ’n persoonlike vlak meer wil weet in verband met die Christelike geloof word ook nader geroep.
Die gesprek het geen bedoeling om as ’n institusionele kerk of Bybelskool te funksioneer nie. Ons moedig mense aan om by ’n kerk van hul keuse in te skakel waar Jesus Christus sentraal staan.
Doel:
- Om Christus beter te leer ken en sy liggaam se funksionering geloofwaardig saam te lewe.
Christus is die hoof en oorsprong van die liggaam. In Christus is die koninkryk besig om te kom. Ons as gelowiges is sy dissipels en volg Hom omdat ons nuutgemaak is. Ons het deel gekry aan die Goddelike natuur en ons geloof ontplooi tot liefde vir alle mense. (2Pet 1:3-7). Die ideaal is dat gelowiges op aarde geloofwaardig as ’n eenheid in Christus lewe ten spyte van verskeidenheid. Saam is ons saaiers, vredemakers, brug bouers, raadgewers en helpers terwyl ons meer van Hom leer ken. Dit is deel van die herstel van geloofwaardige vertrouensverhoudings in ons samelewing.
Ef 4:4 4Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het.
Ef 4:16 16en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam ’n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde.
Ef 4:3 3Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe.
- Informele interaktiewe gesprek geleentheid.
Die doel is tweedens om ’n geleentheid te skep vir vrymoedige, informele en interaktiewe oop gesprek rondom die Christelike lewe binne ’n veilige en respekvolle en gefokusde omgewing. Dit is nie in kompetisie met kerke se bestaande kleingroepe nie omdat dit juis nie in ’n roetine van fisiese byeenkomste en programme funksioneer nie. Dit is ook nie beperk tot ’n geografiese omgewing nie. Hierdie is ’n veilige virtuele gemeenskap wat die geleentheid skep vir oop gesprek op ’n gelyke speelveld. Die gesprek kan wissel van die verkenning van die basiese evangelie deel tot ’n volwasse debat ten opsigte van die interpretasie van moeiliker skrifgedeeltes. Nuut en dieper. Deelname aan enige gesprek is ten volle vrywillig.
Naam: Parakaleo
Die naam van die portaal kom van die teks in 2 Kor 1:4 wat ook die grondslag van ons gemeenskapbesigheid inisiatief by die Pharos Gemeenskapsentrum vorm.
4In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons weer ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig,
Die Griekse woord parakaleō is in Afrikaans vertaal met die woorde troos of bemoedig. Die oorspronklike woord is saamgestel uit twee stamwoorde naamlik “para” – wat eenvoudig as naby of langsaan verstaan kan word en “kaleo” wat eenvoudig as roep verklaar kan word. “parakaleo” kan dus ook as nader roep om saam te staan verklaar word. Die gedagte word ook ondersteun uit die Engelse vertaling van die woord met die woord “comfort”. Die Latynse oorsprong van die woord “comfort” het ook twee stamme naamlik “com” of “cum” wat met saam, langsaan of naby vertaal kan word en “fort” wat met sterk en standvastig verklaar kan word.
Die naam is ’n uitnodiging:
Parakaleo – Kom saam en deel in God se kragtige ondersteuning
Logo:

Die simboliek in die logo is ’n kombinasie van tradisioneel en nuut.
- Die kruis is die tradisionele simbool dat die opgestane Christus sentraal is in die inisiatief.
- Die Mőbius-band wys op die effektiewe en gebalanseerde benutting van die volle geleentheid deur in Christus saam vorentoe te beweeg in die reis deur die woord.
- Die vliegwiel wat deur die Mőbius-band aangedryf word wys op die drie primȇre gawes wat die Heilige Gees in gelowiges werk naamlik geloof wat anker en groei, hoop wat motiveer om te volhard en liefde wat aanvuur. Dit is in die kragveld wat gelowiges ondersteun word.