Perspektief op geloofsgemeenskap
Begrip “kerk” in Bybelse konteks
Mat 16:18 Jesus se gebruik van die “begrip” (Afrikaanse vertaling 1983)
18En Ek sê vir jou: Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my kerk bou, en die magte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.[1]
Hand 8:3 en 9:31 Lukas se gebruik van die “begrip”
3Saulus het die kerk probeer uitroei. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vrouens laat uitsleep en hulle in die tronk laat sit.[2]
31In die hele Judea, Galilea en Samaria het die kerk ’n tyd van rus en vrede belewe. Dit het gevestig geraak en in gehoorsaamheid aan die Here gelewe, die kerk is deur die Heilige Gees versterk, en die ledetal het toegeneem.[3]
1 Kor 12:28 Paulus gebruik die “begrip” (19 keer )
Sien ook 1Kor15:9, Gal 1:13, Ef 1:22 en 23, Ef 3:10 en 21, Ef 4:13, Ef 5:23-32 (7keer), Fil 3:6 en Kol 1:18 en 24.
28En in die kerk is daar mense aan wie God ’n bepaalde taak gegee het. Ten eerste is daar apostels, ten tweede profete, ten derde leraars; verder is daar dié wat wonderdade kan doen, dan dié wat genadegawes ontvang het om mense gesond te maak, om hulp te verleen, om leiding te gee of om ongewone tale of klanke te gebruik. [4]
Nota: 1Kor 12 moet in konteks van 1Kor13 en 14 gelees word.
Ef 1:22-23 Paulus verbind die “begrip” met die liggaam van Christus.
22Ja, aan Hom het God alles onderwerp, Hom bo alles verhef en Hom aangestel as hoof van die kerk. 23Die kerk is sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.[5]
Bronverwysings:
- [1] Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Mt 16:18). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
- [2] Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Ac 8:3). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
- [3] Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Ac 9:31). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
- [4] Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., 1 Co 12:28). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
- [5] Die Bybel Nuwe Vertaling. (1998). (electronic ed., Eph 1:22–23). Cape Town, South Africa: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.
Agtergrond van die Griekse woord ekklēsia
Die Griekse woord ekklēsia word met gemeente (1953) of kerk (1983 en 2020) vertaal.
Die Griekse woord ekklēsia kom 118 keer voor in die oorpronklike teks. Dit is 23 keer met die Afrikaanse woord kerk vertaal in die 1983 vertaling. Die woord gemeente kom 206 keer voor in die 1983 vertaling. Dit is interessant dat die woord kerk nie in die 1933/1953 gebruik is nie, maar wel gemeente. Die woord gemeente kom 81 keer voor in die 1933/53vertaling.
Die Griekse woord ekklēsia is ’n vroulike selfstandige naamwoord en ’n samestelling van die stamwoord “ek” (of “ex”) en ’n afgeleiding van die stamwoord “kaleō”. Die stamwoord “ek” (of “ex”) dui op die oorsprong of die beginpunt. Dit is die punt vanuit en vanwaar aksie of beweging begin. “kaleo” is ’n werkwoord wat roep beteken. Dit kan eenvoudig verduidelik word as ’n samekoms van gelowiges wat uit hul huise uitgeroep is na ‘n openbare plek, ’n vertrekpunt van aksie of beweging.
Die begrip sȇ niks meer oor die grootte of die doel nie. Die gemeenskap kan dus klein of groot wees. Daar was wel altyd ’n verwagting van aksie en beweging vanuit wie die mense in Christus is. Die eenheid van die gemeenskap is gevestig in Christus as hoof. Die sigbare kwaliteit en dus geloofwaardigheid van die gemeenskap is gefundeer in die eendragtige navolging van Christus deur die leiding van die Heilige Gees.
Paulus verwoord dit uitsonderlik in Ef1:22-23. God die Vader het Christus aangestel as die hoof van alle gelowiges indiwidueel en gemeenskaplik. Alle Christen gemeenskappe is deel van sy liggaam, die volheid van Hom wat alles in almal vervul.
Dit is die kern van die Bybelse konteks van geloofsgemeenskap. Die brief aan die Efesiërs, hoofstuk 1 tot 6, gee ’n baie volledige samevatting van die inklusiewe en interaktiewe werking van die geloofsgemeenskap in die wȇreld. Ons kan ook sȇ dit is hoe die koninkryk kom.
Toepassing in vandag se konteks:
In Christus het niks verander nie. Die oorspronklike kernbegrip van die woord ekklēsia is duidelik.
Die probleem is die begrip van die woord “kerk” in konteks van die onvolmaakte institusionele kerk. Die gebrek aan sigbare eenheid weens die diepliggende verdeeldheid wat met tyd onder Christene ontstaan het, het ’n bepaalde interpretasie tot gevolg wat die geloofwaardigheid van geloofsgemeenskappe steeds negatief raak. Die fokus is op dit wat verdeeldheid veroorsaak en nie op Christus wat sentraal die eenheid ten spyte van verskeidenheid bewerk nie.
Die verdeelde institusionele kerk is vandag in ’n oorlewingstryd. Ongelukkig reageer baie gemeentes deur met sterker grense meer te isoleer en met mikrobestuur te probeer om beheer te behou. Dit is juis die gedrag wat die kwaliteit van gemeenskap benadeel en geloofwaardigheid verder in gedrang bring. Die gedrag wys nie dat Christus onvoorwaardelik in beheer is nie. Daar is nie meer die verwagting dat die samekoms die vertrekpunt van beweging saam met Christus is nie. Die meeste gelowiges is staties want die verwagting is om bedien te word en nie om te dien nie.
In Openbaring 2 en 3 sȇ Johannes sewe keer dat die wat ore het, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes (ekklēsia) sȇ.
Slot gedagte:
Hierdie interpretasie word nie met ’n veroordelende gesindheid gedoen nie. Ons is verseker ook nog onvolmaak in begrip. Dit is wel waar dat die verdeeldheid die fokus op die eenheid in Christus beïnvloed en ons gebed is dat die verwagting van die samekomste weer die vertrekpunt van beweging saam met Christus sal wees. Geestelike gawes moet aan die werk kom.
Die samekoms in ‘n virtuele portaal is nuut en vreemd en waarskynlik ook nie ideaal nie. Die verwagting is dat hierdie nuwe informele samekoms sigbaar die eenheid in Christus as hoof sal wys en dat die verwagting van die samekoms die vertrekpunt van beweging saam met Christus sal wees. Die Parakaleo Portaal is nie ‘n formele institusionele kerk of bybelskool nie. Ons begelei gelowiges om weer hulle gawes te beoefen in ‘n fisiese gemeenskap van hulle keuse.
Notas:
Interkerklike inisiatiewe.
Die woord “interkerklik” het ‘n duidelike interpretasie dat dit aksies of inisiatiewe is wat in die ruimte oor gemeentegrense plaasvind. Dit duidelik dat die woord “kerk” hier na institusionele strukture verwys. In konteks van die liggaam van Christus is sulke inisiatiewe inklusief deel van die groter gemeenskap van gelowiges wat op samewerking en eenheid fokus met Christus as die hoof.
Ekumeniese verhoudings.
Gelowige “brugbouers” bou verhoudings wat gevorm word om die gebrek aan eenheid tussen verskillende Christelike tradisies, formasies, groepe en denominasies te genees.
Kyk gerus na die volgende skakel van ‘n inisiatief by NWU: https://theology.nwu.ac.za/af/m-d-programmes/ekumeniese-perspektiewe
