Die vraag is of geloof in aksie ‘n opsionele keuse is?
Hebreërs 11 – Wat geloof is.
Heb 11:1 Om te glo, is om seker te wees van die dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie.
Heb 11:33-34 33Deur die geloof het hulle(OT gelowiges) koninkryke verower, die reg van God gehandhaaf en verkry wat God beloof het; hulle het leeus se bekke toegestop, 34gloeiende vuur geblus en aan die swaard ontkom; hulle het in swakheid krag ontvang, was sterk in oorlog en het die leërs van vreemdes op die vlug gejaag.
Geloof getuig van ‘n onvoorwaardelik persoonlike verhouding met God oor eeue heen. Mens se swakheid wys juis God se krag. Jak 5:16b herinner ook, “Die gebed van ’n gelowige het ’n kragtige uitwerking. ”
Hebreërs 12 – Oog moet op Jesus gevestig wees.
Heb 12:1-3 Terwyl ons dan so ’n groot skare geloofsgetuies rondom ons het, laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, 2die oog gevestig op Jesus, die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God. 3Hou Hom voor oë wat so ’n vyandige optrede van die sondaars teen Hom verdra het. Dan sal julle nie geestelik moeg word en uitsak nie.
Geloof in Jesus Christus verbind ons aan ewige lewe saam met God. In Christus is ek verlos van sonde. Hierdie teks herinner aan die volgende:
- Skare van geloofsgetuienis bly ’n voorbeeld.
- Die lewe in die gebroke werklikheid is soos ’n wedloop. (Beweging in tyd – “reis”)
- Jesus Christus is persoonlik die Begin en Voleinder van geloof.
- Sonder Jesus Christus kan mens nie volhardend hardloop nie. (Raak geestelik moeg).
- Jesus Christus is die keuse, nie geloof nie.
1 Kor. 13 – Geloof is deel van die kragveld van God in die onvolmaakte werklikheid.
1 Kor 13:2b …….al het ek al die geloof om berge te versit, maar ek het geen liefde nie, dan is ek niks.
1 Kor 13:13 13En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!
Geloof begin die persoonlike verhouding met God en anker aan die lewende God. Hoop motiveer om te volhard in geloof. Agapé (goddelike liefde) is die dryfkrag wat ewig aanvuur.
Aan God se liefde is daar geen einde nie. (Ps 118). Wanneer Jesus Christus weer kom, breek die volmaakte werklikheid aan. Geloof en hoop stop want ons sien en beleef. Die wedloop is voltooi.
2 Pet 1 – Geloof groei en ontplooi tot liefde vir alle mense.
2 Pet 1:3-7 3Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag. 4Deur dit te doen, het Hy ons die kosbaarste en allergrootste gawes geskenk wat Hy belowe het. Daardeur kan julle die verderf ontvlug wat deur begeerlikheid in die wêreld werksaam is, en deel kry aan die Goddelike natuur. 5En juis om hierdie rede moet julle alles in die stryd werp om julle geloof te verryk met deugsaamheid, die deugsaamheid met kennis, 6die kennis met selfbeheersing, die selfbeheersing met volharding, die volharding met godsvrug, 7die godsvrug met liefde onder mekaar en die liefde onder mekaar met liefde vir alle mense.
My identiteit is in Christus. Nuutgemaak. Verlos. Voorberei om doelgerig te hardloop na die wenpaal.
2 Pet 1:5 …..alles in die stryd werp…. (giving all diligence)
Wanneer ons deel kry aan die Goddelike natuur gee ons gretig onsself volledig met toewyding oor aan die groeiproses. Daar is ’n Goddelike dringendheid, ’n dors, ’n begeerte wat die groei dryf. Dit kom verseker nie uit my eie krag en ywer nie. Dit is nie ’n opsionele keuse nie.
Mat 6:33 – Hoe word ons geloof verryk?
1983 Vertaling – 33Nee, beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee.
2020 Vertaling – Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.
Ons geloof word versterk wanneer ons die eenheid van die liggaam van Christus in aksie sien. Dit sluit aan by Heb 12 wat sȇ dat ons oog op Jesus gevestig moet wees. Ons is toegerus vir dienswerk om die liggaam van Christus op te bou. (Ef 4) Dit is ook nie ’n opsionele keuse nie. Hoekom sou God die gawes gegee het as ons dit nie hoef te gebruik nie?
Wanneer ons deel kry aan die Goddelike natuur leef ons daagliks vanuit ’n persoonlike naby en lewende verhouding met die Drie-enige God. Die heerlikheid van sy teenwoordigheid oortref alle ander dinge. Gebed (gesprek met God) is soos asemhaling van die siel. Luister na wat die Gees sȇ kom uit tyd in die woord en bevestiging van medegelowiges wat saam bid. Geloof kom uit die besef wat God se onpeilbare liefde en genade beteken. Die wonder is dat dit nie net by onsself bly nie. Dit moet gedeel word. Dit is ook nie ’n opsionele keuse nie. Gelowiges kan nie anders nie.
Rom 11:33-36 – Aan God die eer
33O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God!
Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!
34“Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?
35Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?”
36Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge.
Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid!
Amen.
Samevatting:
Na my mening is die keuse eenvoudig: “Aanvaar ek Jesus Christus as my persoonlike Verlosser en Koning?Ja of Nee.” Ja beteken ek nooi Hom in na die diepste grond van my volle wese en laat Hom onvoorwaardelik heers. Geloof, hoop en liefde is deel van die “kragveld” wat saam met Christus kom.
Wanneer mens uit genade tot geloof in Christus kom deur die werking van die Heilige Gees, wanneer die saad van die evangelie ontkiem, kry mens deel aan die Goddelike natuur. Geloof groei en ontplooi Christus se agape (“DNS”). Die volle potensiaal van die vrug van die Gees (Gal 5:22-23) is volledig in elke gelowige. Christus se Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien.
